Aquaman; ‘n Bederf met ‘n boodskap.

 

-JESKE VAN DER WALT.

DC Comics vat nog ’n stap in die regte rigting met hul nuutste film, Aquaman. Die vervaardiger, James Wan, nooi jou uit na ’n skouspelagtige onderwaterwêreld smack-packed vol avontuur, romanse, komedie, wraak, familiedrama en aksie.

Die plot van Aquaman is eenvoudig en hou jou aandag heeltyd geboei. Jy hoef nêrens té veel te wonder of dink om te bepaal wat aangaan nie.

Aquaman handel oor die verhaal van Arthur Curry (Jason Momoa) en die gesonke stad Atlantis. Arthur is die seun van ’n vuurtoringbewaarder en die koningin van Atlantis. Arthur word sonder sy ma groot, wat glo deur die koning van Atlantis vermoor is oor sy ’n verhouding gehad het met ’n man van die oppervlakwêreld en ’n seun by hom gehad het.

Arthur word deur Vulko en Mera opgelei om hom sodoende te help om die ware koning van Atlantis te word en sy halfbroer Orm in sy pad van oorlog en verwoesting te stuit.

James Wan gebruik die verhaal van Aquaman om aan kykers oor te dra hoe besoedeling van die see skrikwekkende, verwoestende gevolge het.

Die kleure en onderwaterwêreld is voortreflik gedoen en die rekenaargegenereerde beeldwerk (CGI) in die film is van die hoogste gehalte! Dit sal jou asem wegslaan. En vir die dames: Ek kan jou belowe dit is nie ál wat jou asem gaan wegslaan nie! Jason Momoa vertolk sy rol ongelooflik goed, asof hy vir hierdie rol gemaak is.

Die karakters het diepte wat goed deur hul akteurs oorgedra word en die humor in die film sorg vir goeie vermaak en lekkerlagsessies.

Aquaman is beslis ’n film wat ek sal aanbeveel. Wat my betref, is dit ’n 9/10 en Jason Momoa kry ’n 10/10… vir sy goeie akteurswerk, natuurlik!