Is die nuwe Lion King se brul groter as sy byt?

 

Nostalgie was nog altyd deel van die filmreus Disney se suksesresep en die nuutste toevoeging tot hul reeks lewende-aksie films, The Lion King, loop byna oor daarvan.

Van die openingstoneel van dagbreek oor die grasvlaktes van Afrika word toeskouers herinner waarom The Lion King een van die suksesvolste animasieprente van alle tye is.

Die storie handel steeds oor die klein leeutjie Simba wat ’n swaar pad na volwassenheid moet stap nadat sy pa deur sy bose oom vermoor is, die musiek gee mens steeds hoendervleis en James Earl Jones verleen steeds sy stem aan die ikoniese Mufasa.

Maar kan dié realistiese en herwinde weergawe die oorspronklike film se skoene werklik ooit volstaan?

Die Animasie-realisme is verstommend, maar tog soms ongemaklik, veral omdat die diere se gesigsuitdrukkings nie juis kan verander om emosie te toon nie. Dit kan veral vir dié van ons wat met die oorspronklike film grootgeword het, ook soms een te veel wees om ’n “regte leeu” te hoor praat en sing (en boonop ’n bekende stem soos die van Beyoncé te hoor uit daardie leeu kom).Tog is die nuwe weergawe verfrissend, met nuwe akteurs, twee nuwe liedjies en ’n effens aangepaste storielyn vir bykarakters. Jonger kykers sal bekendgestel word aan die ikoniese en geliefde verhaal, terwyl volwasse kykers opnuut sal opmerk dat die temas in die fliek nie net oor klein Simba se pad na die troon handel nie, maar ook oor die lewe en dood, doelgerigtheid en die gevaar wat gulsige leiers vir lande kan inhou.

Die beste manier om die fliek te geniet is om dit nie te oordink nie. Dit sal nooit die oorspronklike animasieprent kan vervang nie, maar is steeds ’n lekker uitstappie vir die hele gesin en beslis die moeite werd om op die groot skerm te gaan kyk.