Leandie Lombaard Bräsler

Leandie Lombaard Bräsler is ’n sangeres, liedjieskrywer en motiveringspreker met ’n groot liefde vir haar taal en kultuur en ’n passie vir musiek. Musiek was nog altyd deel van haar lewe sedert sy op 12-jarige ouderdom haar eerste album, As jy aan eendag glo, bekend gestel het. Sy het op ’n jong ouderdom leer klavier speel en liedjies skryf en was vier jaar oud toe sy vir die eerste keer met ’n mikrofoon in haar hand op die verhoog verskyn het.

Op die ouderdom van 14 het sy al die lirieke op haar tweede album, Wees net… geskryf en toe reeds die land saam met haar familie platgereis, van fees tot fees en vertoning tot vertoning. In 2011, haar matriekjaar, het sy haar derde album deur Brettian Productions uitgereik. Sy en haar pa, Johan Lombaard, het al die liedjies op die album geskryf het en sy het dié jaar ongeveer 54 vertonings aangedurf.

Ná matriek het Bräsler besluit om aan die Universiteit van Johannesburg te gaan studeer. Tydens haar eerste jaar het sy na Namibië getoer, met vyf vertonings en verskeie radio-onderhoude. Daarna het sy ’n studiebeurs gekry en besluit om eers haar studies te voltooi, hoewel sy nog van tyd tot tyd vertonings gedoen het en musiek geskryf het. Sy het in 2012 as eerstejaarstudent die lied Racheltjie de Beer geskryf.

“Sewe jaar later het ek die wonderlike geleentheid gekry om hierdie lied saam met Dapper Media op te neem, asook die musiekvideo daarvan, wat deur Forum Films verfilm is. Ek het geleer dat God se tyd beslis nie ons tyd is nie. God se tyd is altyd die regte tyd! Al moet ons soms eers bietjie kaalvoet oor die Drakensberge gaan loop en geduld aanleer.”

Die lied is gedurende Augustus 2019 se Vrouemaand uitgereik, om dapper vroue te vereer wat ’n invloedryke rol in Suid-Afrika gespeel het, soos Racheltjie de Beer, Susanna Smit, Nonnie de la Rey en Emiley Hobhouse.