’n Offergawe van vars Afrikaanse alternative folk rock vol verhale, oorgedra deur ’n sielvolle, unieke stem. Swerwer is die pseudoniem van sanger en liedjieskrywer Jose Bezuidenhout.

Hy is in 1988 in Pretoria sentraal gebore, waarna hy sy jeug- en tienerjare in die westelike suburbs saam met sy jonger broer en enkelma deurgebring het. Op die ouderdom van 14 het hy ’n kitaar as geskenk by sy ma gekry en stiptelik skool verlaat om sy droom van musiek uit te leef.

Deur die jare voor sy loopbaan afgeskop het, het hy van werk tot werk geskuif en ook vir ’n ruk in die berge van Magoebaskloof in ’n tent gebly op genade en met gasvryheid van beide vriende en vreemdelinge.

“Ag, my arme ma! Ek was maar ’n probleemkind toe ek ’n tiener was en sy het lang ure gewerk. Skool was vir my ’n straf en ek het gesukkel om by die ander kinders in te pas. Ek het daai tyd baie Tuks FM geluister. Ek het my helde daar ontdek en maar saam hul songs op die radio probeer speel. Later het ek uit kitaartydskrifte alles probeer inneem wat ek kon.” –Swerwer

Jose het sedert 2009 in verskeie musiekprojekte oor vele platforms landwyd opgetree en het onlangs vir drie jaar sonder huis of kar van dorp tot dorp gehop met sy Engelse materiaal, onder die naam Vagabond King. Met sy gemak en siel op enige gegewe tyd is dit nie moeilik om aanklank by sy optredes te vind nie.

Swerwer is die verhale van die Afrikaner deur die oë van ’n seun uit die suburbs van Transvaal. Hy spreek sy hart in sy moedertaal – Afrikaans – uit.