OPTOG! Laurika Rauch- en my ervaring.

– SALET SMITH

In my kinderdae het ek altyd Laurika Rauch se musiek in die agtergrond gehad, en min wetend het sy ’n groot rol gespeel in my liefde vir Afrikaanse musiek. Laurika se treffers sal my altyd na aan die hart lê, en toe ek die geleentheid kry om na ’n konsert te gaan kyk, het ek dit met albei hande aangegryp.

Die Atterbury-teater is stampvol – daar is kleintjies van ses jaar, tieners wat vergeet het om ’n belt aan te sit om hul jeans bo te hou, ’n pasgetroude paartjie wat verlief inmekaar gevleg sit en oupa wat ouma vir ’n aand uitneem. Ouma is opgetof met die hare wat netjies geblaas is, haar duurste krale om die nek, en oupa stap breëbors in met ouma aan die arm.

So nederig soos wat Laurika is, het sy met haar rustige, stylvolle persoonlikheid die gehoor op die voorpunte van hulle stoele laat sit. Laurika het die vermoë om tyd te laat stilstaan, wanneer sy sing is almal doodstil en luister hulle na die lirieke van die gunstelingtreffer – Kinders van Die Wind, geskryf deur Koos du Plessis. Dit is ’n treffer wat Laurika Rauch in 1979 ’n huishoudelike naam laat word het.

Sy sing haar bekende treffers soos Die Nostalgie, Die mense op die bus, Jy is te dierbaar en natuurlik Ou Tante Koba só dat mens hoendervleis kry van jou toontjie tot jou kroontjie.

Ek was so in vervoering dat ek saggies begin saamsing, totdat ’n vrou voor my vinnig omdraai en sê “Sssssjjjjjjuuuut”. Nou kyk, mens kry altyd “daai” persoon by ’n konsert, die tannie met die “kan ek met die bestuurder praat”-haarstyl. Ek wou nog iets terugsê, toe sê Laurika vir die gehoor: “Sing saam!”. Ewe skielik sing die gehoor soos een man “My oom se motor is ’n ou masjien”. Ek kry so ’n lekker warm gevoel en ek sing op my hardste saam. En nee, ek kan nie mooi sing nie, maar dit was lekker.

Laurika Rauch is beslis die moeite werd om te gaan kyk, of jy nou lus is vir ’n aand uit of as jy net bietjie nostalgies wil raak. Tien uit tien vir jou, Laurika en orkes! Jy is maar net ’n staatmaker!

 

Besoek Laurika Rauch se Facebook blad om te sien waar OPTOG! volgende gaan wees.